|
Uittreksels uit die voorwoord
Bladsy 17
. . . . . . maar wanneer is 'n mens werklik dood? Wanneer jy nie meer op
aarde is nie, of eers wanneer niemand meer aan jou dink nie? In my verhaal
wil ek 'n hele paar mense wat al lankal vergete is, weer terugbring; weer
voor ons oë neersit sodat ons hulle kan sien, en aan hulle kan dink. Van
byna al hierdie mense het nooit eers 'n foto bestaan nie, en die paar foto's
wat daar later wel was, het tussen ou briewe in koekblikke, op solders en
op trekpaaie verlore geraak; dus sal elkeen maar self moet besluit hoe hulle
gelyk het. Ek het die legkaart van hulle lewens probeer bou: party stukkies
het ek gevind en dit op die regte plek ingesit, baie van die stukkies het
weggeraak.
Hoe vertel 'n mens die verhaal van jou familie en jou volk sonder om partydig te wees? Ek kon dit ook nie regkry nie. Veral die Engelse volk wat kom maai het waar hulle nie gesaai het nie, kan ek nie neutraal laat verbygaan nie. As jy weet dat jou ouma in haar jongmeisie-jare, toe sy tyd moes gehad het vir mooi tabberds en fyn skoentjies; toe dit tyd was om saam met jongkêrels "onder deur die maan" te speel en dan agterna met vriendinne te giggel; as jy weet dat sy juis toé byna daagliks vroue en kinders in die konsentrasiekamp moes begrawe terwyl die dames in Engeland tee drink, vergeet jy dit nooit. As jy weet dat sy haar hele moeilike lewe lank haar lag met 'n traan gelag het, wil jy hê dat jou nageslag dit ook moet weet, en hulle rûe reguit maak vir die swaar dae wat in hulle eie lewe sal kom. Ek wens net dat nie een van hulle ooit soveel hartseer en swaarkry sal beleef soos sy nie. Ons het almal van ons ouers geleer om te vergewe en die verlede te begrawe, maar ek dink ons het soms verkeerd vergeet en verkeerd onthou, en te min uit die verlede geleer. Toe ons ou volkie later die trein in die tonnel sien aankom, het ons steeds geglo hy is op 'n syspoor op pad in sy eie rigting, en was dit te laat om opsy te spring. . . . . . .
|
|