|
Nog 'n paar uittreksels
Bladsy 53
. . . . . . Dit is nou 7 Mei 1662. In die hele Tafelvallei is nie 'n mens te sien
nie, want die hele bevolking is vandag in die hawe. Na tien jaar in die
Kaap, vertrek Jan van Riebeeck en sy gesin na Batavia, en man en muis is
daar om hom en sy gesin te groet. Dit was tien moeilike jare, maar die vooruitgang
is daar vir elkeen om te sien. Daar is genoeg voedsel vir die verbyvarende
skepe en saam met die vryburgers se plase, word nou reeds honderd morg grond
verbou. Sy opvolger, Zacharias Wagenaar, maak 'n opname en stel vas dat
daar buiten die V.O.C. personeel slegs 39 vryburgers, 15 vroue en 22 kinders
in die Kaap is. . . . . .
. . . . . .Geleidelik raak die nuwe kolonie in die Kaap ook in Europa bekend
en is daar ook 'n klompie getroude pare wat hierheen immigreer, dikwels
Duitse mans wat al 'n paar jaar in Holland gewerk het, en daar met Hollandse
vroue getroud is. Daar was ook 'n paar avontuurlustige jong meisies wat
nie lus was om in Holland 'n onbetaalde huis-slaaf vir ryk mense te wees
nie en hulle het hul eie planne gemaak. As soldate of matrose verklee het
hulle werk op die skepe gekry, en sodoende die Kaap bereik. 'n Paar van
hulle is teruggestuur, maar die meeste het gebly, en goeie volksmoeders
geword. Vroue is egter steeds ver in die minderheid en die V.O.C. wend 'n
poging aan om 'n klompie weesmeisies te kry om saam met ander immigrante
na die Kaap te kom, maar met min welslae. Teen die einde van die eeu het
daar net 'n paar skepe opgedaag met so sewe of agt meisies op 'n slag, want
jong meisies was nie al te gretig om so 'n waagstuk te onderneem nie. Dié
wat dit wel gewaag het, is vinnig opgeraap en gekerk, en met al die slawearbeid
beskikbaar, kon hulle 'n redelik gemaklike lewe voer. . . . . . .
Bladsy 115
. . . . . . Die van Pretorius is welbekend in Suid-Afrika en verwys na
die Latynse benaming "praetor" wat sy oorsprong in die ou Romeinse Ryk
het. Volgens oorlewering is die stad Rome gestig in die jaar 753 v.C.
en deur konings van die Etruskiese volk regeer. Die laaste Etruskiese
koning was 'n wrede tiran wat in 509 v.C. deur die volk onttroon is, en
hulle het gesweer dat daar nooit weer 'n koning oor hulle sou heers nie,
en het 'n republiek gestig. Om die nuwe republiek ordelik te regeer, is
twee PRAETORS (magistrate of regters) aangestel, wat jaarliks herkies
is. Hulle moes orde in die republiek hou en die rede waarom daar twee
van hulle was, was om mekaar te kontroleer sodat niemand ooit weer te
veel mag oor die volk sou hê nie. Oor die eeue ontwikkel Rome tot die
sentrum van die groot en magtige Romeinse Ryk. Die bekende Julius Caesar
word in 62 v.C. tot PRAETOR gekies en na die provinsie Spanje gestuur.
Hy keer later weer terug na Rome maar word agtien jaar later, in 44 v.C.,
deur vyandelike opposisielede in die Romeinse senaat vermoor. . . . .
. .
Bladsy 127
. . . . . . Leiden word gou erken as die belangrikste hoër-opvoedingsentrum
in Europa en uitgesoekte studente van oral in Europa kom daarheen. Onse
Wessel is in sy elfde jaar (op 24 April 1624) ingeskryf as leerling aan
die Latynse skool naby hulle huis en later ook as teologiese student aan
die Universiteit van Leiden. By sy aanmelding aan die Universiteit, is
hy deur die rektor in die Album Acedemium op Latyns ingeskryf: "Wessellius
Bernardi Praetorius" (wat beteken: Wessel, seun van Barent Schout), en
is van nou af amptelik bekend as WESSEL PRAETORIUS. Deftige Wessel moet
egter met sy kraakblink skoene wat sy pa self gemaak het, steeds te voet
na die universiteit loop, want glo dit of nie, daar was 'n tyd toe Holland
nog sonder fietse was! . . . . . .
. . . . . .In 1637 word in opdrag van die State-Generaal die Nederlandse
vertaling van die Bybel voltooi, en die Statebybel kom in omloop. Vir
die eerste keer kan elkeen wat kan lees, en geld het om die groot Statebybel
te kan koop, nou self besluit wat hy wil lees. Barent het sy opvoeding
in Duits gehad, hy het nie Hollandse boeke nodig nie, en hy sal vir hom
soos altyd, in die kerk laat voorlees. 'n Nuwe, sondige gerug begin nou
in die geleerde kringe by die universiteit die rondte doen. Die Italiaanse
astronoom Galileo Galilei sien deur sy teleskoop berge op die maan, en
ontelbare sterre. Hy publiseer 'n boek met die naam "Sterreboodskap".
Daarin fundeer hy die bewering dat die aarde en ander planete om die son
draai. Soos 'n mot om 'n kers? Almal weet tog die aarde staan gevestig
op sy vier pilare en is die middelpunt van die Skepping en nou hierdie
sondigheid! . . . . . .
Bladsy 142
. . . . . . Die verskil in beskawingspeile tussen die verskillende volksgroepe
was nou al duidelik en die Kaapse blankes het anders begin reageer teenoor
die swarte slawe as teenoor die oosterlinge. Alreeds in 1676 begin die
Kaapse regering met die eerste aparte skole vir blank en nie-blanke kinders,
nadat hulle aanvanklik saam in een skool was. Kort daarna verbied die
Kaapse owerheid ook huwelike tussen Nederlanders en vry-gemaakte slavinne,
want as dit so voortgaan, sit die Kaap voor die einde van die eeu met
'n probleem. Die Pretorius-kinders het nou wel nie die heel beste onderrig
gekry nie, maar wanneer daar wel skool was, het een van die slavinne hulle
persoonlik gaan afgee aan die meester. Tot die Kaapse kinders se spyt
was daar altyd weer 'n skoolmeester of sieketrooster te vinde om die kinders
te onderrig, maar pa Johannes was streng en het hulle nog dikwels saans
self laat lees, veral uit die Bybel. Tot hulle vreugde was daar ook gereelde
onderbrekings in die onderwys, want as daar 'n skip met siek soldate in
die baai aangekom het, is die solder waar hulle skool gehou het, in 'n
siekeboeg omskep tot verdere kennisgewing. . . . . . .
Bladsy 197
. . . . . . . Die Grosvenor was 'n handelskip van die Engelse Oos-Indiese
maatskappy wat op 13 Junie 1782 vanaf Trincomalee in Ceylon vertrek het,
op pad na Engeland. Aan boord was 150 passasiers, waaronder hooggeplaaste
offisiere en hulle gesinne. Op 4 Augustus, na twee dae se stryd teen 'n
verwoestende storm, loop die skip op die rotse langs die kus van Pondoland,
noord van die Umzimvubu-rivier in die huidige Transkei. Die hoofmas was
gebreek en in die onbeheerbare skip het oral water begin instroom. . .
. . .
. . . . . . . Intussen het 'n skare opgewonde Pondo´s op die kus versamel
om die skouspel te bekyk. 'n Skip is besig om te sink, en ondervinding
het hulle geleer dat die Groot Water hulle nou weer ryklik sou beloon.
Omtrent twintig mense het verdrink, maar al die vroue en kinders bereik
die kus sonder lewensverlies. Van wrakstukke en stukke seil maak hulle
'n beskutting op die strand en kry 'n paar vure aan die gang. Toe dit
begin donker word, verdwyn die Pondo´s terug na hulle kraal. Die volgende
oggend met ligdag is die Pondo´s weer daar, en begin nou opgewonde alles
wegdra wat uitgespoel het, en die seemanne begin ook vinnig bymekaar maak
wat hulle kan gebruik vir oorlewing. Hulle besef dat hulle hier geen hulp
kan verwag nie; hulle sal moet aanstap Kaap toe en die kaptein bereken
dat dit hulle ongeveer twee weke sal neem om by die eerste blanke inwoners
uit te kom. . . . . . .
Bladsy 235
. . . . . . Jan Andries Holtzhausen sit en dink oor die pad wat agter
hulle lê. Voor die trek het hy hom dit so anders voorgestel en al Hester
se vrese in die wind gestrooi. Die trek is noodsaaklik vir hulle seuns
se toekoms, het hy geredeneer. Dit gaan 'n lekker trek wees, 'n heel nuwe
wêreld om te sien en bowe alles, vryheid! Die Engelse kry nie sý seuns
om saf te maak nie, hulle moet régte manne word! Regte manne, en wat het
hy vandag oor? Net een seun en 'n nuwe vrou wat ook treur. Pa sê ons mag
nie God se raadsbesluite bevraagteken nie, pa sê . . . . . .
Bladsy 283
. . . . . . Die moord op onskuldige vroue en kinders kan nie oorlog
genoem word nie. Hierdie magsvertoon van Engeland, was wat ons in vandag
se taal sou noem, "etniese suiwering". Het dit al ooit in die wêreldgeskiedenis
gebeur dat 'n land "onderneem" om die vroue en kinders van die vyand "te
versorg en te beskerm" terwyl hulle teen die mans oorlog maak? Ek skryf
slegs in breë trekke hieroor omdat ek wil hê dat my kinders moet weet
wat gebeur het, sodat hulle kan weet hoekom die Afrikanervolk waarvan
hulle deel is, 'n onbeduidende minderheid geword het in die land waarvoor
hulle voorouers geveg het. Hierdie vernietigende oorlog het nie plaasgevind
uit haat of wraak of uit oorlewings-drang nie, maar alleen uit gierigheid.
Wat die pionier-boere hier aan die Suidpunt tot stand gebring het, was
merkwaardig. Anders as die pioniers in Amerika en Australië, het ons mense
nie die land ingevaar en die inheemse volke uitgemoor nie. Ons mense was
altyd op soek na 'n beter lewe, en het dit wat hulle gevind het, in vrede
probeer behou. . . . . . . |
|