|
Uittreksels uit hoofstuk 1
Bladsy 27
. . . . . . Oral waar mense mekaar teëgekom het, het die sterker stamme
nog altyd die swakkeres onderwerp. Die Keltiese volke woon in hierdie tyd
versprei oor groot dele van Brittanje, die huidige Frankryk en vanaf die
Alpe tot in die middel van die huidige Duitsland. Die Germane het hulle
verwonder aan die Kelte se kunstig versierde swaarde en hulle pragtige vroue,
en gebrand van begeerte. Die fisies groot en sterker Germane het deur volgehoue
aanvalle die Kelte in hulle gebied uitgeroei en die Kelte het mettertyd
al hul mag verloor. Die Keltiese mans is gewoonlik as slawe vir die Romeine
weggevoer, maar die goedhartige Germaanse krygers kon dit nie oor hulle
harte kry om met die sierlike vroutjies en hulle kinders weg te doen nie.
Nee, hulle eie oorwerkte vroue sal 'n paar ekstra hande goed kan gebruik
en om 'n ekstra vrouelyf in die winter warm te hou, was darem nie te veel
gevra nie. So, in moderne terme, word Germanië 'n sosiale staat wat sy hand
uitreik na weduwees en wese en vir hulle 'n veilige hawe skep. Die Keltiese
vroue en kinders is in die volk opgeneem en sodoende het die meer gevorderde
en verfynde Keltiese kultuurgewoontes geleidelik deel van die Germaanse
volkskultuur geword. Hulle nakomelinge het 'n groot invloed op die latere
Germaanse kultuur gehad. Die Germane is in die geskiedenis daarvoor bekend
dat hulle seep en haarkamme uitgevind het: verfynde gebruike wat hulle eintlik
ook maar by die Kelte geleer het! . . . . . .
. . . . . . Die vroeë heersers oor die grondgebied wat later Europa genoem
sou word, was die magtige Romeine. Hulle het gereeld pogings aangewend om
die Germane by hulle reuse ryk in te lyf; selfs so vroeg as 113 v.C. het
hulle al die Germaanse gebied aangeval. . . . . . .
. . . . . . Verskriklike oorloë het gevolg, waarin die Germaanse krygers
dikwels die onderspit gedelf het teen die geoefende Romeinse huursoldate.
In hierdie oorloë het die Romeine egter 'n ander sy van die Germane leer
ken. Anders as die fyn Romeinse vroutjies, het die sterk Germaanse vroue
saam met hulle mans slagveld toe getrek. Hulle het laers gevorm met oskarre
en die mans met wilde getrommel aangemoedig. Elke Germaan wat holrug wou
vlug, is deur die woedende vroue met knuppels doodgeslaan. As die vroue
sien dat hulle mans die slag teen die oormag gaan verloor, het hulle gewoonlik
eers hulle kinders verwurg en dan selfmoord gepleeg, 'n baie ou gebruik
en laaste uitweg om te verhoed dat hulle as Romeinse slawe weggevoer word.
Die beroemde Julius Caesar en sy leër het self ook aanvalle op die Germane
gedoen in 55- en 53 v.C, en hoe meer die Germane van die vyand geleer het,
hoe gevaarliker het hulle self geword. Die Germane was groot en sterk, meestal
met blonde of rooi hare, en . . . . . .
Bladsy 42
. . . . . . Luther word nou vir die duiwel uitgekryt en sy geskrifte is
oral in Katolieke kerke verbrand. In 1521 spreek die kerk die banvloek oor
hom uit maar gelukkig is sy landheer, keurvors Friedrich van Sakse hom goedgesind;
hy laat hom "ontvoer" en versteek hom in sy kasteel. Luther gebruik hierdie
tyd van afsondering goed, en begin die Psalms, en daarna Erasmus se Grieks/Latynse
weergawe (1519) van die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Dit word 'n
blitsverkoper en die eerste drieduisend gedrukte kopieë word vinnig opgeraap
en skelm gelees, want eintlik mag net die priesters voorlees. Vreemd genoeg,
in hierdie tyd begin ook die geloof aan hekse momentum kry. Twee slim geleerde
monnike sit koppe bymekaar en skryf 'n boek genaamd "Heksehammer". Hierdie
vakkundige handboek word net so ywerig as die vertaling van die Nuwe Testament
gelees en elke leser word 'n kundige aangaande die praktyk van heksery,
en die uitkenning van hekse.
Die heksejag begin met die seën van die Pous, en versprei soos 'n veldbrand
dwarsdeur die land. Net soos in ons tyd, met die kommuniste, staan nou 'n
heks agter elke bos en vir elke onheil waarvoor 'n oorsaak gesoek word,
hetsy siekte, dood, haelskade, slegte oeste of veesterftes, is 'n skuldige
vrou gevind en tot heks verklaar. Een voorbeeld hiervan was die vroedvroue.
Hulle het 'n pasgebore baba eerste gesien en het dan glo "die bose blik"
op die kind gewerp. As gevolg van die primitiewe omstandighede van die tyd,
is baie babas en moeders dood, en wie was die skuldiges? Natuurlik die verhekste
vroedvroue! Ook het dit die broeders ter ore gekom dat hierdie heks-wywe
geheime raad aan die vroue uitdeel om die jaarlikse kinder-aanwas te verminder:
'n duiwelse komplot. Derduisende vroue is vir elke moontlike kwaad wat hulle
sou gedoen het, wreed gefolter tot hulle erken (en soms selfs geglo het)
dat hulle hekse is, en dan op brandstapels verbrand. So het 'n paar vroue
wat verlangs van ons familie was, ook hulle einde gevind, maar die familie
praat liewer nie daaroor nie. . . . . . . |
|