|
| Nuwe vrystelling in Afrikaans
Met hierdie boek neem Etrese Buter ons op reis deur die geskiedenis en vertel
oor die lewe van vier Suid-Afrikaanse families. Hulle verhale begin by die
ou Germane en die vroeë geskiedenis in Europa en loop deur Suider-Afrika
tot by die gebeure van vandag. Die boek gaan nie oor fiktiewe karakters
nie, maar oor werklike persone en alhoewel die klem in die verhaal op vier
families val, is dit in werklikheid ook die verhaal van elke Suid-Afrikaner
met 'n lang geskiedenis in hierdie land.
Die verhaal omvat die meeste groot gebeurtenisse en tydperke van ons
geskiedenis soos die beginjare in die Kaap, die pioniers in die binneland,
die stigting van Pretoria, die Voortrekkers, die Dorslandtrek, die Anglo-Boereoorlog
en tot by die situasie waarin ons ons vandag bevind.
Een hoofstuk van Was ek 'n voël, dan vlieg ek weg
vertel die verhaal uit 'n dagboek van haar ouma wat geskryf is op 'n trek
terug van Angola na Suidwes Afrika. Dit is 'n hartroerende verhaal van
moed en wanhoop, swaarkry en uithou omdat jy nie kan omdraai nie.
Waar kom party van ons bygelowe, ons gewoontes en tradisies vandaan?
Hoekom klink ons glasies as ons 'n heildronk instel en wat is ons verbintenis
met eikebome? Met baie interessanthede, agtergrondinligting en veral met
baie gevoel word die karakters en die lewensomstandighede uit die verlede
vir ons nader gebring.
|
|